Thursday, November 24, 2016

vir altyd


ek gee vir jou my hart
elke donker hoekie sodat jou lig daarin kan skyn
ek gee vir jou my mond
sodat joune vir ewig daarin kan verdwyn
ek gee vir jou my lyf
sodat jy jou volgende storie woord vir woord daarop kan skryf
ek gee vir jou my lewe, my trane en my lag
my elke oomblik, my dag, my nag.

want jy maak my hele wêreld heel
met jou arms wat my veilig hou
en jou woorde wat in my ore speel
jy laat my weer in liefde glo
jy leer my van voor af droom en hoop
jy is die die klop waarop my hart ritme hou
die spore wat oor my siel loop
en van vandag en totdat tyd ophou
is ek jou meisie, jou vriendin, jou vrou.

Wednesday, September 23, 2015

om te verlang

aan die einde
is daar altyd iets wat binne ophou asem haal
jou storie op my lyf geskryf
jou mond oor en oor herhaal
en ek soek jou vergeefs
waar jy in die gange van my hart ronddwaal
want dis lankal nie meer jy nie
net my eie onthou:
prentjies van gister
gedagtes van my en jou

en selfs al laat ek jou gaan
en hou op om jou heeltyd te verwag
sal ek nie kan vergeet van jou hande
onthou my ore self jou lag
sal my lyf jou nog verlang
en die seer my hart verteer

miskien more mis ek jou minder
maar vandag mis ek jou meer

Friday, July 31, 2015

jammer



ek wou nog vir jou sê
ek wou nog vir ‘n ruk langs jou sit en met jou praat
miskien selfs aan jou vat
ek wou nog vir jou sê
maar toe ek daar kom was dit te laat
en jy was te vêr af in die pad
vir omdraai en luister
en miskien was ons altwee te kwaad
en te seer van al die weer probeer
en moeg vir die verwyt en die verwoes
en van al die woorde wat die mooi verteer
alles was te gou verby 
en toe word die nagte te lank
en die dae langer
en die oomblik vir ewig verlore

maar ek wou nog vir jou sê
ek's jammer 

Tuesday, October 21, 2014

in fokus


alles het tot stilstand geruk;
vir 'n oomblik my lewe gevries in tyd
vorentoe is alles onseker
en agter is 'n stille verwyt

hoeveel mag ek droom
en wat is dit wat ek wil hê?
is daar iets wat wegkruip in jou oë
iets wat jou hande vir my wil sê?

of  is dit alles net 'n illusie
iets wat my lyf van êrens af onthou
maar hoekom in al my huidige chaos
voel ek in fokus naby jou


Friday, April 11, 2014

lewe

rook my laaste sigaret in die oggend reën
my mondhoeke met rooiwyn gevlek
ek ruik nog jou lyf, maar ek is weer alleen
niks wat werk nie, maar alles perfek
en ek weet nog steeds nie wat liefde is nie
maar jou oë kyk dwarsdeur my
en ek weet nog steeds nie presies wat dit is wat ek van jou mis nie
maar as jy loop wil ek hê jy moet bly
en ek weet dit is 'n duisend keer verkeerd
maar ek het nodig om vir een laaste keer asem te haal
en hopelik sal ek myself kan vergewe
want ek weet ek gaan in jou waansin verdwaal
en jy gaan vir ewig binne my lewe



Friday, October 11, 2013

weg


alles is skielik leeg
elke ruimte wat jy gevul het
elke herhindering waarin jy beweeg
jy sit vas in my onthou
jou lag; jou hande; jou oë
jou sleepvoet loop
jou blinde glo
ek praat nog met jou
maar ons praat nie met mekaar nie
en ek voel jou êrens naby
maar jy is nie meer daar nie
en miskien eendag as die geraas bedaar
en ons die donker met lig omvou
sal die leegte verdwyn
sal ek jou vir ewig by my kan hou
vir nelis.


Thursday, March 14, 2013

hoop

die verlede sal jou wel eendag weer kom haal
dis die prentjies van onhou
wat seker maak jy bly betaal
vir jou foute en jou skel en jou weer geval
en dit maak nie saak hoe ver weg jy loop
die goeie stukkies van jou siel
bly steeds uitverkoop
 
maar daar's 'n plek in my hart waar net jy mag gaan
'n stilword plek  
waar daar nog hoop bestaan
en miskien as die verlede my weer kom haal
sal my siel vir oulaas vir twee betaal